Bly op datum met COVID-19: sacoronavirus.co.za
M.C. van der Berg Incorporated |

Gereelde vrae

faq---vergadering


Moet ek my verbandbemiddelaar ’n professionele fooi betaal?

Nee – die diens wat u van ‘n verbandbemiddelaar ontvang is gratis. Aangesien die verbandbemiddelaar uitgekontrakteer word aan die bank, is dit die bank se verantwoordelikheid om ‘n professionele fooi aan die verbandbemiddelaar te betaal.


Wat gebeur met my titelakte na registrasie van die verband?

U oorspronklike titelakte sal na die bank gestuur word as addisionele sekuriteit vir die lening nadat die verband geregistreer is.


Sal my verband outomaties gekanselleer word sodra ek my verband ten volle vereffen?

Nee. Selfs in gevalle waar u verband ten volle vereffen word, moet u verband steeds gekanselleer word in die Aktekantoor. ‘n Fooi is betaalbaar aan die prokureurs wat toesien tot die kansellasie van die verband in die Aktekantoor.


Wat is die aanvangsfooi?

Die Nasionale Kredietwet, 34 van 2005, laat banke toe om ‘n bedrag vanaf die kliënt te verhaal om die bank se administrasiekoste te dek. Die verbandgewer mag kies om die aanvangsfooi by sy leningsbedrag te voeg of om dit dadelik te betaal as deel van sy koste, voor registrasie van die verband.


Wat is die verband registrasie fooi?

Hierdie fooi, wat ‘n riglyn is wat verskaf word deur die prokureursorde, is betaalbaar aan die prokureurs wat toesien tot die registrasie van u verband. Dit is betaalbaar aan u verbandprokureur voor registrasie van die verband in die Aktekantoor.


My bank het my lening goedgekeur. Mag ek enige aktevervaardiger aanstel om die verband by die Aktekantoor te registreer?

Nee. Elke bank het ‘n spesifieke paneel van aktevervaardigers wat op instruksie van die betrokke bank verbande mag registreer. U moet eers uitvind of u gekose aktevervaardiger op u bank se paneel is voordat u die bank versoek om die instruksie na daardie aktevervaardiger te stuur.


Ek moet ‘n leningsdebietmagtiging teken. Wat behels hierdie dokument?

Wanneer u hierdie dokument onderteken, gee u opdrag aan u bank om waarborge uit te reik en om die bedrag wat u by die bank leen op die datum van registrasie van die eiendom uit te betaal.